Ietsie oor Arno Carstens en sy eerste Afrikaanse solo-album

Arno Carstens is reeds vir meer as twee dekades ’n huishoudelike naam in die musiekbedryf – vir al bekend as die voorsanger van die supergroep Springbok Nude Girls. Maar nou wys dié sanger sy staal met sy eerste Afrikaanse solo-album.

Die Aanblom 13 is ’n uiters persoonlike album soos blyk uit titel van dié album. Wat baie opvalend is, is dat die album aan sy pa, Jos Carstens, wat 13 Maart 1933 gebore is, opgedra is. Bo en behalwe dít, bevat die album ook 13 snitte met die inhoud wat handel oor uitdagings, persepsies, hoop, liefde en verandering.

Die album bevat ’n sterk alternatiewe aanslag. Snitte soos Siele Loop Sielloos, Bottel Sonder Prop en Ontwaak getuig van ’n album wat nie net sommer aanmekaar gesit is nie, maar sorgvuldig uit woord en melodie verweef is.

Slim lirieke en poëtiese boodskappe met sterk melodieë sorg vir ’n unieke album vir die fynproewer. Snitte soos Bonatuurlik, Die Aanblom, Spook en Fantasie is ’n spieëlbeeld daarvan.

Die verwerking en produksie is in eg Arno Carstens-styl en hier en daar sluip Nude Girls-invloed deur. Die album is goed beplan en die produksie van hoë gehalte.

Die album is verseker die moeite werd as jy van alternatiewe klanke hou.

Loer hier onder na een van sy treffers op die nuwe album:- Arno Carstens – Bottel sonder prop

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment