Johan Anker van The Voice SA het ‘n debuutalbum

Johan Anker van The Voice SA-faam het sy aanhangers se asems behoorlik weg geslaan met sy lang verwagte debuutalbum, Hoop & Bid, wat uiteindelik verlede maand vrygestel is. Hierdie uitreiking is voorafgegaan deur sy vertolking van Leonard Cohen se bekende treffer, Hallelujah, tydens sy heel eerste oudisie op The Voice SA 2016 wat reeds deur meer as 285 000 mense op YouTube gekyk is.

Dié opwindende nuweling wat reeds vanaf 9-jarige ouderdom sing, was nie net ’n lid van die Drakensbergse Seunskoor nie, maar is ook ’n begaafde akteur wat al in verskeie verhoogproduksies te sien was.

Hoop & Bid verteenwoordig ’n weldeurdagte kombinasie van ligte, klassieke en geestelike musiek om ’n deurlopende inspirerende boodskap van hoop aan sy luisteraars te bied. Dié mengsel van roerende lirieke sowel as ritmiese melodieë beloof om nie net in luisteraars se gedagtes vas te steek nie, maar om hulle ook te laat nadink en om vir hul nuwe hoop te gee.

Die oorhoofse doel van hierdie album word egter in die album-omslag uiteengesit by monde van Psalm 104:33, “Lewenslank sal ek die Here besing en God prys met my laaste asem.”

Vaughan Gardiner en Roux Cloete was die uitvoerende vervaardigers van hierdie album bestaande uit elf snitte wat spesiaal verwerk is om Johan se strelende tenoorstem sowel as sy uitsonderlike vokale vermoëns ten toon te stel. Niel Scoombee, Ernst Kleinhans, Sean Butler, Roux Cloete, Vaughan en Nerine Gardiner is van die bekende liedjieskrywers wat saamgespan het om al die oorspronklike snitte daarop tot stand te bring. Die album omslag en- ontwerp deur Fathom Media met wynrooi en swart as sentrale kleurskema waar hy in gedagte afkyk met sy skaduwee in die agtergrond skep die indruk van ’n diep denker.

Die titelsnit, Hoop & Bid, is ’n inspirerende lied oor hoe ons as mense mekaar in tye van pyn, hartseer of vrees moet bystaan omdat alle mense liefde en geluk verdien, ongeag wie hulle is. Die ander potensiële treffers sluit in die liefdeslied, Wilde Riviere, asook die meesleurende opdraglied, Deel Dit Uit. Hierdie album bevat ook indrukwekkende weergawes van verskeie bekende treffers soos Liefling, My Hele Hart, You Raise Me Up, God se Bedelaar, Houtkruis, Oorwinningslied en Hoe Groot is U. Daar is ongelukkig slegs drie oorspronklike liedjies op die hele album wat dit vir Johan heel waarskynlik baie moeilik gaan maak om ’n onafhanklike musikale identiteit binne die plaaslike musiekbedryf te kan vestig.

Die klank wat op hierdie album gehoor kan word, toon nie slegs baie sterk ooreenkomste met die van die gewilde mans kwartet, Romanz nie, maar herinner plek-plek ook aan die ongeëwenaarde talent van legendes soos Gé Korsten en Josh Groban. Hoop & Bid slaag egter ten spyte van ’n gebrek aan voldoende oorspronklike materiaal nog steeds daarin om ’n klassieke stem binne ’n meer moderne musikale konteks te kan plaas. Johan se moderne benadering tot asook sy sielvolle vertolking van ’n groot verskeidenheid liedjies maak egter nietemin nog steeds ongetwyfeld van hom ’n opkomende kunstenaar om dop te hou.

Loer hier onder na sy treffer:- Johan Anker – Hoop & Bid

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment