Ken jy vir Suzzi Swanepoel, wel hier is “Stukkies Van My” net vir jou

Suzzi Swanepoel het soos ’n vars briesie oor die Suid-Afrikaanse musieklandskap kom waai met haar debuutalbum, Stukkies van my wat verlede maand vrygestel is. Sy het die afgelope drie jaar al reeds met verskeie enkelsnitte, Ek Probeer, EKO (Ek Kan Onthou) en Laaste Keer vanaf hierdie album in die publiek se harte ingekruip.

Hierdie aktrise met ‘n musiekteater agtergrond wat destyds bekendheid verwerf het toe sy die Top 12 van Idols se vyfde seisoen gehaal het, was ook in die sepie, Binnelanders, die jeugdramareeks, Sterlopers en die film, Mooirivier te sien.

Stukkies van my is ‘n versamelnaam vir al die liedjies wat tot dusver deel van Suzzi se loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf uitgemaak het en haar na aan die hart lê. Dié persoonlike album dien eintlik as ‘n ode aan die vrou waardeur ten toon gestel word hoe sterk en braaf sy is sonder om haar weerloosheid en magteloosheid weg te steek of te probeer ontken.

Dit word deur ‘n baie sterk blues gedrewe ondertoon gekenmerk wat meesterlik met pop, rock en jazz elemente verweef is om ‘n effens meer alternatiewe klank tot stand te kan bring. Die byderwetse album-omslag deur Ruan Coetzee met ‘n pienk filter sowel as driehoeke en swane wat as deurlopende motiewe gebruik word, skep ‘n alternatiewe, kunssinnige en poëtiese voorkoms.

Laaste keer is die nuutste enkelsnit vanaf hierdie album waarmee Suzzi vroue wil bemoedig dat dit nooit te laat is om op te staan en ‘n lewensveranderende keuse te maak nie. Sy sorg vir ‘n onoorwonne vokale kragtoer in Ek sal staan wat oorspronklik deur Amanda Strydom, Janine Neethling en Deon Opperman vir Sterlopers geskryf is. Sy beïndruk verder ook met die meesleurende lied, Asem wat oorspronklik deur Jaco Smit vir die Afrivisie Liedjieskryfkompetisie geskryf is. Ander potensiële treffers sluit in Ek Probeer, EKO (Ek Kan Onthou), Blou Sweeties en Man vir my. Dié album word op ‘n hoogtepunt afgesluit deur Beste vriende, haar duet met die talentvolle Gerald Clark wat spesiaal deur Wouter van de Venter vir hulle geskryf is.

Verskeie gevestigde sowel as opkomende name in die plaaslike musiekbedryf het saamgespan om aan al die “stukkies van haar lewe” reg te kan laat geskied. Suzzi het onder andere saam met Marno van der Merwe, Bouwer Bosch, Divan Coetzer van Buuren en Zanandi Botha aan van die liedjies geskryf. Franco Prinsloo kan op klavier gehoor word terwyl Tiaan Erasmus en Gerald Clark vir van die meesterlike kitaarspel verantwoordelik is. Die meeste snitte is deur Alron Matthews van Brown Cow Productions vervaardig terwyl die finale meng deur Tim Rankin behartig is.

Stukkies van my beloof om met sy opwindende, nuwe klank nie net jou opinie van liefde en verhoudings nie, maar ook van Afrikaanse musiek vir altyd te verander. Suzzi slaag ongetwyfeld met haar unieke stem, alternatiewe styl en uitsonderlike vokale vermoëns daarin om ‘n definitiewe nismark vir haarself oop te kerf. Hierdie emosiebelaaide album bied ‘n gesonde balans tussen opgewekte, ritmiese liedjies en rustiger ballades waarby vroue van alle ouderdomme aanklank behoort te vind.

Loer hier na ‘n musiekvideo van haar:- Suzzi Swanepoel – Ek Kan Onthou

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment