Piet Botha se jongste uitreiking gaan ‘old school’

Sewe jaar ná sy laaste offer in Afrikaans, stel Piet Botha Die Middernagtrein in Maart aan die wêreld bekend.

Hierdie album, sê Piet, “het weer terug na die old school gegaan”. Hy en die manne van sy band Jack Hammer is vars uit die ateljee waar hulle vir drie weke aan Die Middernagtrein by Wolmer Records gewerk het.

“Daar is goed in die lewe waarvoor mens nie kan weghardloop nie,” sê Piet. “Dis maar die noodlot, dís wat die middernagtrein is. Dis spookagtig, verbode, soos wanneer mens huis toe ry ná ’n gig in die middel van die nag. Die middernagtrein is maar ’n metafoor vir life on the road.”

Hierdie is Piet se sesde Afrikaanse album, uit ’n totaal van sestien vollengte albums.

Aanhangers van Piet en Jack Hammer wat iets rustiger verwag het, mag dalk verras wees. Lanie van der Walt, die album se regisseur van Wolmer Records en ’n ou lid van Jack Hammer, het saam met Jake Gunn en Johnathan Martin, weer op die snare geklim om die album nóg borshare te gee.

“Ons het aanvanklik nie beplan om hierdie album so heavy te maak nie,” sê Piet. “Die songs was almal op ’n akoestiese kitaar geskryf, maar die hele band het vroeg in die opneemproses al besluit om die album te vul met sleutelveranderinge en baie kitare. Dít het maar net daarheen gelei, jy weet?”

Die album word tydens Piet en Jack Hammer se nasionale toer, wat in Maart in Gauteng afskop, bekendgestel.

Die Middernagtrein sal by alle vertonings beskikbaar wees. Piet het onlangs ook by die Vonk-familie aangesluit, wat die verspreiding sal behartig.

Die Middernagtrein is nou by Musica-winkels landwyd, asook op alle aanlyn-musiekplatforms, beskikbaar.

Kyk hier na ’n video-onderhoud oor die album en loer net onder die onderhoud na ‘n stukkie musiek van die sanger:-

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment